Die Kerkhof, Die Woede en Die Ontnugtering

Verlede donderdag neem ons vir Juno, ons Great Dane veearts toe met n seer been. Die spreekkamers is amper soos n “drive-through” uitgelê. Jy ry aan die een kant in, parkeer en as jy klaar is aan die ander kant uit. Die uitgang is teen die ou NGK kerkhof aan die onderkant van Worcester. Partykeer gebeur dinge in ‘n mens se lewe wat geen logiese of wetenskaplike verduideliking het nie. Vir die een of ander rede besluit ek daardie dag met die uitry om weer ‘n slag ‘n vinnige besoek aan Pa, Ma en my broer se grafte af te lê. ‘n Hele paar jaar het verbygegaan sedert my laaste besoek en ‘n skielike, oorweldigende en opregte skuldgevoel oorval my. Ek draai op die ingewing van die oomblik in.

Wat ons daar aantref, grens aan gruwelik. Ek plaas n paar fotos aan die einde van hierdie skrywe ter verduideliking. Die graad van verwaarlosing en vandalisme is bykans bo redelike menslike begrype. Ek het n goeie idee van waar die grafte van my naastes is, maar die onkruid groei so hoog en dig dat ons die soektog na ‘n uur afblaas. Wat ons wel ontdek is dat daar op n paar grafte plakkerstuistes gebou is en dat die rommel en stank  van menslike ontlasting rondom hierdie grafte amper onuithoubaar is. Hoe gebeur dit? Hoe die donner gebeur dit!?!?

Met ‘n ontstuimigheid wat binne my broei ry ons al planmakend en doelgerig huistoe. Hierdie kerkhof is die eiendom van die NG Kerke in Worcester. My  eerste oproep is na die NGK Vallei gemeente in Worcester. Dit is die kerk waar Pa,Ma en my broer lidmate was ten tyde van hul afsterwe. Met ‘n sekretaresse wat my in ‘n toon, afkomstig van n outydse “department-store” soos Garlicks se skakelbord antwoord: ”daardie klagte val onder die Moedergemeente se jurisdiksie menneer,” broei die ontstuimigheid meer en meer. Ek bel die Moedergemeente en kry n baie vriendelike en ingeligte man wie se naam ek vir eers hier uit gaan hou, Mnr X. Hy gee onmiddelik vir my die presiese ry en graf nommers van Pa en Ma se graf sodat ek dit in die ruigtes sal kan opspoor die volgende dag. Die verduideliking van hoe hierdie situasie by die kerkhof buite beheer geraak het is maar 99% te make met die beskikbaarheid van fondse en n totale verslane gesindheid jeens die probleem. By Mnr. X se eie erkenning is die lidmaatskap van die NGK vinniger aan die daal as Marcus Jooste se geloofwaardigheid en die waarde van ‘n Steinhoff aandeel. Dit lei uitermate na die beperking op die beskikbaarheid van fondse en die wil om die kerkhof in stand te hou. Daar word blykbaar wel met die minusipaliteit onderhandel om die probleem saam aan te pak, –  van die een vergadering na die volgende ad infinitum …

Die eerste prioriteit is om ten minste my familie se grafte te gaan vind en  skoonmaak. Die volgende dag gaan ek, my vrou en ons jongste seun af kerkhof toe met hierdie spesifieke doel voor oë. Ons word in geen betwyfelbare taal en uit verskillende oorde gewaarsku dat daar baie ongure karakters(ek verwys voorts na hulle as zombies) in die kerkhof rond drentel. Hulle dreig vrouens met messe en steel hulle beursies en juwele, breek by voertuie in ens ens. Niemand blyk dit gaan meer grafte besoek weens hierdie rede nie. Bewapen met ‘n graaf, ‘n hark, skoonmaakmiddels, lappe, ‘n piksteel(vir die “zombies”) en n broeiende moerigheid betree ons die “slagveld”.

Ek besluit om eers n draai deur die oorgroeide lanings tussen die rye grafte te ry, ‘n recce as’t ware om te bespied vir ongure zombies. Die haglike toestand van die kerkhof en die stank bring die pruttende moerigheid nader en nader aan oorkook. Iets begin my pla, knaag aan my by wyse van spreke. Ek tel vinnig so om en by 120 rye grafte met omtrent 45/50 grafte per ry, dis bykans 6000 grafte. Deur die oudste gedeelte van die kerkhof ry ek stadig en begin kyk ek n bietjie nader na die grafstene. Hier lê stigterslede van die meeste NG kerk gemeentes in Worcester. Van hierdie grafstene is nie gegote beelde nie, maar kunswerke. Hierdie gedeelte behoort tot nationale monument verklaar te word. Ek begin rowwe somme in my kop maak. Kom ons sê die gemiddelde persoon wat hier begrawe lê het in hy/haar leeftyd R10 000.00 aan die kerk geskenk by wyse van kollektegeld, dankoffers en tiendes, maal sê met 5500 grafte, is n astronomiese R55 000 000.00. Daardie jare se mense het nog in hul testamente ook groot bedrae aan die NGK bemaak.  Seker gedink dit sal Petrus met meer goedgunstigheid na hulle paspoorte kyk by die poorte, om sodoende tog net die “geween en gekners van tande” te vermy. Kom ons sê dit is nog so R45 000 000.00. Dit bring ons by R100 000 000.00 en dis maar net n baie breë en geskatte beraming. Onthou as jy nie volgens die orde van die Hoë Priester Malchizedek jou “tiende” gee nie, wel dan ween en kers ons weer tande! Nou praat ons nog nie van onvoorwaardelike ondersteuning met die reël en uitvoer van kerkbazaars nie. Die tydrowende kerkraadsvergaderings om te besluit wie onder sensuur geplaas moet word omdat hulle vergeet het van die swaard van die “geween en gekners van tande” bo hulle koppe nie. Dis verbasend wat jy uit die leeftyd van n “lidmaat” kan wurg met die dreigement van ‘n ewige helle-vuur en natuurlik die vrees vir n ewige “geween en gekners van tande”.  As ek nou terugdink besef ek hoe hierdie “hoog heilige’ klomp ons met vrees manipuleer het. Vrees en manipulasie het nog altyd die Afrikaner-rande laat inrol. Vinniger as wat n weermag helikopter vir Magnus Malan na ‘n Ravensmead Boys Choir vertoning op Bird Island kon vlieg. Vra maar vir Afriforum en Solidariteit, dit werk vandag nog steeds. Skielik het ek geen empatie met Mnr X se verduidelikings nie.

Beste NG Kerk,  hierdie is julle verantwoordelikheid, hierdie is julle skuld en nou julle uitdaging om reg te stel. Hierdie mense wat hier lê het in hulle vrees en naïwiteit  ontsettend baie oor die jare vir julle en julle manipulerende leuens gedoen, nou versaak julle hulle met n kak verskoning. G’n wonder julle is vandag ‘n sterwende entiteit met geen meer relevansie nie!

Skuus, ek het nou so bietjie afgedwaal, maar moes dit uitkry. Pa en Ma se gesamentlike graf is in ry 20, nommers 37 en 38. Terwyl ons die rye aftel na ry 20 toe bespeur ons ten minste drie grafte met die blote oog wat plakkers op het. Prut prut prut!! Ons stop langs ry 20 en kyk deur die ruigtes af. Ek skakel die bakkie af en Christiaan sê dat hy dink hy sien nog n plakker in die ry af. Ons voete tref die stof langs die bakkie en op daardie presiese oomblik begin ‘n kerkhorlosie  lui. Die ironie is skielik so groot dat ek die temalied van The Good, The Bad and The Ugly in my geestes-oor hoor. Ons begin die ry afstap en ek slenter die piksteel oor my skouer met die houding van n wafferse Joe Don Baker se Sheriff Buford Pusser in die oorspronklike Walking Tall fliek. Ons is nog so 40 meter van die grafnommer af en ons bespeur beweging in die plakkersmaaksel op ‘n graf. My kneukels is wit soos ek die piksteel beklou. Selfbeheersing raak al hoe moeiliker. Hoe nader ons kom hoe harder klink die temalied en hoe meer blyk my vermoede reg te wees. Toe ek graf nr 37 aftel staan ons reg langs die graf met die plakkerstuiste op en plakker in. PRUT PRUT PRUT!!Ek lig die seil wat oor die grafsteen drapeer is effe terug sodat ek die naam op die graf kan sien, daar staan dit,”KOTZE”! Die oorkookpunt tref my soos n Kallie Knoetzen boulhou.

Terwyl die plakkershut met sy inhoud en inwonende zombie soos vrot velle deur die lug trek, af van my ouers se oorskot en graf af, hoor ek net my seun blaf dreigemente, sy trane rol van woede. Die pynlike dood wat hy beskryf op die zombie wag as hy nie nou skoonmaak tot so n mate dat ‘n mens van die graf af kan eet nie, sal selfs ‘n laboratorium rot  laat sidder en terugdeins. Die jong man staan van die grond af op en begin skoonmaak teen ‘n spoed wat  Usain Bolt sal beny met my seun wat bo-oor hom troon met gebalde vuiste. Op ‘n werklik ontstuimige emosionele vlak en instinktief druk ek sonder om te dink die graaf in die zombie se hand en die hark in Christiaan s’n. My dierbare vrou ry om swart sakke te gaan koop want ek het dit by die huis vergeet en Christiaan en die zombie skoffel en hark. Dis onwerklik, die skielike kalmte en doelgerigtheid, dis onwerklik. Dis asof een lig afgegaan en ‘n ander een aangeskakel het in ‘n oogwink.

Ek bel die polisie. Kaptein Mosterd antwoord en ek verduidelik. Dit maak nou nie saak wat wie ook al oor die polisie wil kwytraak nie, maar hierdie was siviele diens op sy beste. Hy is beleefd en onvoorwaardelik empaties en vol deernis. Die toon van sy stem en die manier hoe hy my saak behartig is werklik uit die boeke. Daar sal binne 15 minute iemand op die toneel wees en ons moet asb niemand doodmoer nie. Ek los vir Christiaan en die zombie en gaan soek na my broer se graf. Ek neem fotos van die treurmare soos ek beweeg tussen die grafte. Ek kry Leon se graf redelik vining . Hy lê in die minusipale gedeelte van die begrafplaas en nie die kerk se gedeelte nie. Hier is dinge relatief netjies en behalwe vir wind en weer skade is sy graf skoon, netjies en ongeskonde. Ek kniel langs sy graf en groet:”jis Nontie, alles rustig? Long time no see”. Nontie was die bynaam wat my Oupa Stoffel hom gegee het. Net die naaste familie het so na hom verwys.

Terwyl ek so kniel blaai ek op my foon deur die fotos wat ek geneem het. Ek het onder andere ‘n naby foto geneem van die zombie wat op Ma-hulle se graf geplak het. Dis net hier wat nog een van daardie onverklaarbare oomblikke met my gebeur. Ek gaan sit plat op my stert toe ek hierdie foto raakblaai. ‘n Diepgaande gevoel van mislukking spoel oor my. As mens so by die vuilheid verbykyk is dit ‘n mooi jong man met ‘n oop en skoon gesig. Hoe eindig hy plakkend op n graf? Hoe het ons samelewing hom gevaal dat hy hier opeindig, op my Pa en Ma se graf. Dit is nou doodstil om my, soos in doodstil. Die temalied is weg en my woede het soos mis voor die son verdwyn. Hoekom uit al daardie duisende grafte sou hy my ouers s’n uitkies. Nog ‘n ironie tref my asof my oorlede naastes met my praat. My Ma is tien teen een die een uit die duisende wat vir hom sou sê: “kom gooi maar jou seiltjie oor my my kind. My grafsteen sal jou beskerming bied teen die gure Noordwester,” – want dit was soos my Ma was. Ek staan op en begin terugstap na waar die skoonmaakproses ‘n stofwolk bokant my ouers se graf laat dwarrel.

Colleen het teruggekeer met swartsakke en die zombie is besig om al sy rommel rondom die graf op te hark en weg te gooi. Hy en Christiaan het nou so 10 minute saam gewerk aan die skoonmaak proses en Colleen het blomme uit ons tuin gaan haal om op die grafte te sit. Nog ‘n oomblik gebeur toe Christiaan vir sy Ma sê :” ek het Ma prober bel om te sê bring n broodjie  en n koeldrank of iets vir vir hierdie arme siel saam.” Tien minute vroeër sou Joseph Mengele trots op sy dreigemente en metodiek gewees het. Wat is hier aan die gebeur? Hoekom het ek amper sonder verduideliking skielik hier ingedraai gister?

Ek begin die zombie uitvra. Wat is jou naam? Waar is jou ouers? Hoe eindig jy hier op? Vertel my jou storie?

Sy naam is Rewallen, :”maar mense noem my sommer Wally vir kort,” antwoord hy. Voor hy verder kan vertel daag die polisie op. Hulle ken hom duidelik baie goed, soos hulle meeste van die straatkinders seker leer ken en beleef. “My jinne Moffie” groet hulle hom. “is dit jy wat hier plak? Jy weet mos jy mag nie. Jy het dan nou so goed reggekom. Wat het dan nou weer gebeur?” “Ek is weer deur die “gier” gevang konstabel “ antwoord hy. Die “gier” verduidelik hy later aan my is n onbeheerbare drang om die strate in te vaar en losbandig te leef. “Ek is mos anders as ander op straat Mnr weet. – gay soos hulle sê.” “Ek moet myself se gunsies verkoop vir moochie(geld) en dan koop ek tik om te vergeet en te escape hier op die grafte”  “wanneer ek skoon is help ek mense met hulle trollies in Pick’n Pay se parking vir fooitjies en dan bly ek by my Ouma.” “Almal daar en die polisie ken my maar as Moffie, dis my straatnaam.” Vir ‘n vlietende oomblik verskyn Magnus Malan se gesig weer voor my geestesoog. Terug toe ons n ere-parade vir hom moes doen in die kasteel in my diensplig jare in 1982/83. Sal seker karma wees as daar ‘n Wally op sy graf opeindig …

Die polisie praat vir Wally aan om liefs na sy Ouma se beskerming terug te keer. Hulle verduidelik aan ons wat n goeie kind hy eintlik is en hoe hartseer en tragies dit is dat hy elke keer weer val. Hulle beduie ook vir Wally waar ‘n nuwe shelter ge-open het met uitstekende berading. Hulle ry na die ander plakkers in die kerkhof en beveel hulle om op te pak en te gaan. Dis oor die algemeen ‘n tragiese toneel wat hom oor die kerkhof uitspeel. Ons het opgemerk dat daar by die een plakkershut ‘n hondjie lê. Sy verskyn op van die fotos hieronder. Terwyl ons die drie mense wat in hierdie hut woon sien oppak, stap ons nader om te hoor wat nou met die hondjie gaan gebeur? “ Sal dit nie beter wees as ek haar neem en versorg nie?” Vra Colleen aan die jong meisie, ek skat haar so tussen 18 en 20 jaar oud. “Ai jirre mevrou, haar naam is Skandes, wil mevrou haar regtig hê?” “Ons Is baie honger mevrou”, kom die teken dat Skandes nie verniet oorhandig gaan word nie. R30.00 beklink die transaksie en so lê daar onmiddelik ‘n nuwe toekoms vir Skandes voor. Ek is bly om te sê dat Skandes ontwurm, ontvlooi en gedip is. Sy vaar uitstekend en word volgende week “reggemaak” Christiaan gaan haar aanneem en haar toekoms lyk blink. Sy word herdoop as Scruff, die kerkhof hond.

Ek dink weer aan Mnr X se verduideliking. “Ons het n paar jaar terug nuwe vibracrete om die kerkhof opgerig en die bome gesnoei, maar jy weet “hulle” moet mos alles afbreek en “hulle” moet almal besteel en “hulle” bemors tog net weer die plek.” Ek wil nou graag weet by jou Mnr X , wie presies is die “hulle” waarna jy verwys. Ek wil graag weet. Wat gaan “julle” by die NGK doen as een van ‘hulle’ op “julle” drumpel kom staan en tot bekering wil kom. Gaan “julle” sê “hulle” is nie eintlik welkom in God se hemel nie, omdat “hulle” gay is, of van watter veroordeelde gewoontes ook al wat “julle” nie behaag nie skuldig is. Want so lief het God die wêreld gehad dat hy sy eniggebore seun gegee het. Sodat elkeen wat in hom glo, -solank dit ‘n heteroseksuele, blanke, Afrikaanssprekende, tiende betalende lid van die NGK is-, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe mag erwe … nê Mnr X en die sinode wat “julle” so verafgod! Jesus self het nie gehang by die “julle” van sy tyd of by die fariseërs nie, nee hy het gehang by die straatvroue, straatkinders en boemelaars. Die Wallys van daardie jare. Die “hulle” …

Dit is asof daar skielik ‘n band tussen Wally en Christiaan is, asof ‘n woedebrug oorgesteek is en die een of ander verstandhouding skielik heers. Selfs tussen my ‘Colleen en die arme Wally. Hy verduidelik dat hy nou ‘n ouer lewensmaat het. ‘n 46 Jarige man met die naam Tiekie. Tiekie bly saam met hom op die grafte en sorg vir hom. Hy verduidelik dat Tiekie in iemand in Panorama se tuin werk en saans na hom terugkeer met kos en ‘n bietjie losbandigheid. Die hele scenario klink by enige mens ongesond en verdag.

Die dag begin water trek en die onmiddelike area om Pa-hulle se graf is netjies en die pers blommetjies leen ‘n bietjie vrolikheid. My eie persoonlike gevoel van ontnugtering is groot. My vriende na aan my ken my sentiment jeens die deprogrammering  en ontnugtering van die nie-vrydenkende Afrikaner. Ek wil my gesindheid amper vergelyk met Steve Biko se Black Consciousness beweging. Jy kan jouself nie n ware Afrikaner noem tensy jou kop oop, objektief en bevry is nie. Hoe kan jy? Terwyl jy nog toegee aan die afgestorwe Nationale Party en NGK Sinode se vreesbelaaide propaganda, is jy nie deel van Afrikaner Consciousness nie.  Dan is jy eintlik maar net ‘n gevangene van jou eie woede geskep deur andere. Basuin die narregeskal van Die Stem singende opsweepery soos julle wil, maar dis nie “Afrikaner Consciousness” nie …

Drie grafte van my Ma en Pa se graf lê daar ‘n Anna Margaretha Engelbrecht. Haar graf is gevandaliseer en haar grafsteen lê ondestebo geskop. Haar graf het ingesak en volgens Wally kon hulle die oorskot van haar kis en lyk sien. Die graf is nou gevul met Rommel en dien terselfde tyd as Wally en Tiekie se latriene. Sy was ‘n nooi Du Plessis en het einde Maart 1973 tot sterwe gekom. Die opskrif op haar gevalle grafsteen lees: “Wat God doen is welgedaan.” Nou ja wat kan ek sê?

Ek is beslis nie ‘n gerekende skrywer of filosoof nie, maar ek wil tog poog om ‘n vergelyk te tref met ons land en hierdie bostaande gebeure oor die afgelope twee dae. Probeer ons land as die kerkhof sien, ons woede met die algemene gees wat tans in ons land heers en my ontnugtering as ‘n voorbeeld van wat ons nodig het as oplossing. Na die Zuma era behoort die agteruitgang en verwaarlosing van ons land maklik met die kerkhof vergelyk te kan word. Die gees van woede en frustrasie wat onder die verskillende kultuurgroepe heers is absoluut vestaanbaar en eg, soos ons woede rakende die skending van Ma-hulle se graf. Miskien moet ons almal ophou oordeel soos die BLF,die EFF, die NGK en Afriforum en uitreik na mekaar. Probeer verstaan hoekom Wally beland het op die grafte. Saam probeer oplossings vind en ondersteuning bied vir Wally se situasie. Ons as Afrikaners moet begin besef dat blote kritiek, verwyt en beskuldiging van “hulle” geen oplossing bied nie. Ons is almal bo alles eers Suid Afrikaners en daarna Afrikaners of Zulus of Xhosas of wat ook al. Hoekom is ons ingesteldheid net met Rugbywedstryde dan so? Ons kan die kerkhof weer mooi maak en tot monumentstatus laat styg uit die vloer van rommelstatus waar hy hom nou bevind. En die verantwoordelikheid lê grootliks, hoe frustrerend ook al, by “ons.”

Groetnis

 

 

 

 

“Cyrus Jones 1810 to 1913
Made his great grandchildren believe
You could live to a hundred and three
A hundred and three is forever when you’re just a little kid
So Cyrus Jones lived forever

Gravedigger
When you dig my grave
Could you make it shallow
So that I can feel the rain
Gravedigger

Muriel Stonewall
1903 to 1954
She lost both of her babies in the second great war
Now you should never have to watch
As your only children lowered in the ground
I mean you should never have to bury your own babies

Gravedigger
When you dig my grave
Could you make it shallow
So that I can feel the rain
Gravedigger

Ring around the rosy
Pocket full of posy
Ashes to ashes
We all fall down

Gravedigger
When you dig my grave
Could you make it shallow
So that I can feel the rain
Gravedigger

Little Mikey Carson 67 to 75
He rode his
Bike like the devil until the day he died
When he grows up he wants to be Mr. Vertigo on the flying trapeze
Oh, 1940 to 1992

Gravedigger
When you dig my grave
Could you make it shallow
So that I can feel the rain

Gravedigger
When you dig my grave
Could you make it shallow

So that I can feel the rain
Feel the rain
I can feel the rain
Gravedigger” – Dave Matthews

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

In die dae van die Groot Terug Trek.

In die dae van die Groot Terug Trek

Dit was 1833 toe Louis Tregardt n nuwe tendens in Suider Afrika begin het. Kort op sy hakke volg Hans van Rensburg, Hendrik Potgieter, Gerrit Maritz, Piet Retief en Piet Uys. Teen 1836 is die Groot Trek in volle swang en Suider-Afrika maak by wyse van spreke vir die eerste keer kennis met vlugtelinge. 

Hierdie vlugtelinge vermag inderdaad baie. Drie Boere Republieke word suksesvol gestig by name Transvaal, Natal en die Oranje Vrystaat. Vir ‘n hele rukkie is die doelwit bereik om onder die walglike juk van Britse kolonialisme uit te beweeg en Boere onafhanklikheid te bewerkstellig. Nou ja, die res is polities en ideologies belaaide, dog bekende geskiedenis … tot nou toe!

In 2012 verwys Helen Zille na die geweldige invloei van jeugdiges van die Oos-Kaap na die Wes-Kaap as “educational refugees” weens die uiters swak toestand van onderwys onder ANC-heerskappy. Hierdie stelling haal haar die gramskap vanuit vele oorde op die hals, selfs vanuit haar eie geledere. Haal egter die “PC” en “Wokeness” uit die basis van kritiek en beoordeel dit objektief. Wel, ek laat dit aan elke individu se eie oordeel oor. Hoe dit ook al sy, die onvermoë om te bestuur, die onvoorwaardelike vermoë om te steel, kader ontplooiing, tender-korrupsie en die algehele tekort aan vernuf deur die regerende ANC om dienste te lewer het ‘n nuwe vlaag “vlugtelinge” (refugees) na die Wes Kaap tot gevolg. Ek verduidelik …

Hierdie keer nie vanuit die Oos Kaap nie, maar uit Gauteng, hoofsaaklik Pretoria. Rondom 2010, toe my werk my amper weekliks teen die Tuinroete geneem het, het ek al die opduik van sekuriteit komplekse met groot Toskaanse boustyl huise begin bespeur in Mosselbaai. Dit het in beide rigtings begin oorspoel na Stilbaai en George. Wellington en Paarl was volgende aan die beurt en nou hoor ‘n mens al die oordrewe, foneties ôfgerônde Afrikaanse dialek in oorvloed in Welgemoed en Durbanville. Mosselbaai staan al bekend as Mackleneuk by die See, George as Waterkloof by die See en Wellington as die Bolandse Moreleta Park … Hierdie invloei van “refugees” is beslis nie ekonomies of “education” gedrewe nie, hierdie mense het geld, baie geld. Hierdie sosiale vlugtelinge uit Pretoria is gatvol vir die bogenoemde ANC tekortkominge , swak dienste, geweld, misdaad, slaggate, afbrand, afbreek, moorddadige retoriek en die basiese verval van infrastruktuur. Die Wes-Kaap word relatief goed bestuur deur die DA en blyk ‘n soort Utopia-status te geniet in vergelyking met die Noorde. Ek verneem vandag dat daar in die grense van die Kaap Agulhas Munisipaliteit oor die 400 planne vir nuwe huise goedgekeur is. 70% hiervan vir vlugtelinge uit die Noorde. Hierdie tendens, net soos terug in die 1800’s, het ‘n wonderlike positiewe ekonomiese groei, veral in die boubedryf tot gevolg. Baie werk word geskep en die Wes Kaap groei. 

Die Groot Terug Trek is in volle swang … Hierdie keer nie met ossewaens deur die wildernis nie, maar eerder met Ford Rangers, Raptors, Wildtraks, en BMW X5,6 en 7’s al langs die N1 af. Get my drift? 

Elke silwer randjie het ‘n donker wolk.

 Vergeleke met die Zille-stelling van 2012, moet ‘n mens hierdie eksodus vlugtelinge met dieselfde objektiewe meriete beoordeel. Indien so gedoen kan ‘n mens nie anders as om empaties daarmee te staan nie. Die ekonomiese gevolg van hierdie Groot Terug Trek is van onskatbare waarde vir die Wes-Kaap se koffers. Beter lewering van dienste en instandhouding van infrastruktuur kan vermag word, alles lyk “hunky-dory”. Dit is egter net die silwer randjie …

Dit sou baie onregverdig van my wees om te veralgemeen oor die ingesteldheid van Pretorianers. Dit is beslis nie my bedoeling om mense seer te maak of te beledig nie. Ek vra om verskoning as ek sonder voorbedagte rade op tone trap. Daar is egter ‘n paar tendense wat kop uitsteek. Die toeval is te groot vergeleke met die tydslyn van die Groot Terug Trek om nie daaroor te bespiegel nie. 

Skielik gaan Geloftedag-vieringe in Mosselbaai gepaard met die waai van die ou vlag, die sing van Die Stem, die sing van die ou Vlaglied, die meerderheid mans geklee in khaki (veral two tone), gassprekers soos Flip Buys kry ‘n platform en baie Calvinistiese Nasionalisme verskyn in die algemene retoriek. ‘n Wensdenkerige ideologie soos Cape Exit kry  meer traksie, Afriforum lidmaatskap groei ooglopend in die Wes-Kaap en die aantal stemme vir die Vryheidsfront Plus groei eksponensieel. Laasgenoemde se ironie is skrikwekkend. Hoekom sou jy nie aanhou stem vir die party wat die provinsie tot so ‘n mate bestuur dat jy na hom wil terug trek nie? Is sy DNA te Engels? Die ou Barry Hertzog ideologie lê nog vlak, die DNA van Boere selfbeskikking is nog duidelik en die laer trek kultuur is nog tasbaar by ‘n groot persentasie van hierdie Terugtrekkers. Dit gesê, ons nuwe Grondwet gee jou die reg om te assosieer met wie jy wil, te stem vir wie jy wil, te sing wat jy wil(binne perke) en jou ideologieë binne die wet uit te leef soos jy wil. Jy, Afrikaner is eintlik as Suid Afrikaner vir die eerste keer in 1994 werklik bevry. In die woorde van Alanis Morissette: “Isn’t it ironic, don’t you think?” 

Dit alles gesê, welkom terug by ons ou Jan Smuts-manne in die Wes-Kaap. Ons arms en harte is oop vir julle, onvoorwaardelik. Julle heg waarde en ons is bly julle word deel van die demografie in sy geheel as Suid Afrikaners in die Wes Kaap. Dit is ons kultuur as vrydenkende Afrikaners om onsself eerste as Suid Afrikaners te sien en daarna as ‘n sekere bevolkingsgroep en julle dus daarvolgens te verwelkom. Mag julle berusting vind hier by ons. Mag julle bekeer word tot ‘n meer inklusiewe benadering teenoor die demografiese spektrum, want dis juis wat van ons die plek gemaak het wat deur julle begeer word. Waarheen trek julle hiervandaan. Dit blyk dat die Groot Terug Trek ook die laaste Trek is. 

Waarnatoe hierna inderdaad Gehasie?

The fascination of what’s difficult
Has dried the sap out of my veins, and rent
Spontaneous joy and natural content
Out of my heart. There’s something ails our colt
That must, as if it had not holy blood
Nor on Olympus leaped from cloud to cloud,
Shiver under the lash, strain, sweat and jolt
As though it dragged road metal. My curse on plays
That have to be set up in fifty ways,
On the day’s war with every knave and dolt,
Theatre business, management of men.
I swear before the dawn comes round again
I’ll find the stable and pull out the bolt.”

William Butler Yeats

A picture containing text, outdoor, sign

Description automatically generated
Die Groot Trek / The Great Trek